OPERASIONEEL

PUBLIKASIE STRATEGIE

Die SATNT Redaksie verwelkom goeie gehalte manuskripte van Suid-Afrika verwante navorsing oor ʼn wye gebied van onderwerpe in die natuurwetenskappe en tegnologie.

Manuskripte sal na aanvaarding onmiddellik aanlyn as artikels gepubliseer word (ISSN: 2222-4173), en aan die einde van elke jaar sal die Afrikaanse artikels, sowel as al die artikels wat uit ander tale na Afrikaans toe vertaal is, in ʼn papier-gedrukte tydskrif van die SATNT gepubliseer en versprei word (ISSN: 0254-3486). 

Afrikaanse en Engelse manuskripte word vir publikasie in die SATNT aanvaar. Indien ‘n Engelse manuskrip goedgekeur word vir publikasie, word dit in Afrikaans vertaal, waarna beide die Afrikaanse en Engelse artikels gepubliseer sal word. Alle Afrikaanse artikels gaan gepaard met ‘n Engelse opsomming.

Die Afrikaanse publikasie, en indien daar ʼn Engelse weergawe aanlyn beskikbaar is, sal presies dieselfde publikasie verwysing onder die Afrikaanse of Engelse titel hê, naamlik die South African Journal of Science and Technology.

PUBLIKASIEKOSTES

Daar is geen koste verbonde aan enige artikels wat oorspronklik as Afrikaanse manuskripte voorgelê is nie. Vir ‘n Engelse artikel word ʼn publikasiefooi van R2,500.00 gehef, asook die helfte van die koste wat vir vertalingsdienste na Afrikaans toe aangegaan is (die tweede helfte word deur ons borge betaal).

25% PUBLIKASIEBEPERKING

ASSAf en die DHOO plaas die beperking dat nie meer as 25% van die totale aantal publikasies binne die bestek van ʼn jaar van een enkele universiteit of navorsingsinstansie mag kom nie. Publikasies van meer as een universiteit of navorsingsinstansie word daarom onmiddellik na aanvaarding aanlyn gepubliseer, terwyl publikasies van ʼn enkele universiteit aanlyn teruggehou sal word indien daar reeds meer as 25% publikasies van daardie instansie ontvang is. Outeurs word dus aangemoedig om met kollegas by ander universiteite of navorsingsinstansies saam te werk.

GEHALTEVERSEKERING DEUR EWEKNIEBEOORDELING

Navorsing- en oorsigartikels wat as manuskripte aan die SATNT voorgelê word is onderhewig aan ewekniebeoordeling. Daarbenewens word alle ander inhoud wat in die SATNT gepubliseer word noukeurig nagegaan en taalkundig versorg.

Die volgende prosesse word gevolg gedurende die keuring van manuskripte en artikels:

  • Die SATNT ontvang graag manuskripte wat handel oor navorsingsresultate in die Natuurwetenskappe en Tegnologie. Manuskripte kan aanlyn by die SATNT ingedien word deur die volgende web-skakel te volg: https://satntsak.co.za/indien
  • Na indiening word manuskripte eers aan die Redakteur voorgelê waar daar besluit word of die inhoud van die manuskrip voldoen aan die mandaat van die SATNT. Alle manuskripte moet in ‘n styl geskryf word wat verstaanbaar is vir nie-spesialiste. Die Redakteur kan egter die manuskrip ook verwys na professionele lede van die Redaksionele Raad vir evaluasie.
  • Alle manuskripte wat as geskik beskou word vir insluiting in die SATNT word eers blootgestel aan ‘n ooreenkomsopsporingsproses. Wanneer die ooreenkomsverslag dui op potensiële plagiaat, sal die verslag en manuskrip deur die Redakteur ondersoek word om te bepaal of plagiaat wel plaasgevind het. Indie plagiaat vermoed word, word die omvang van die plagiaat bepaal, en sal die plagiaatbeleid in werking tree (sien: https://satntsak.co.za/regulasies).
  • Indien geen plagiaat in die ooreenkomsopsporingsproses opgespoor kan word nie, word geskikte keurders deur die Redakteur aangewys om die manuskrip te beoordeel, waarna die Tydskrifbestuurder die administrasie en tydraamwerke rondom die keuringsproses hanteer.
  • Die SATNT volg ‘n dubbel-blinde keuringsproses, wat beteken dat beide die outeurs en keurders se identiteite wedersyds anoniem gehou word. Ten minste twee keurderverslae word benodig om ‘n besluit te neem oor die geskiktheid van die manuskrip om as ‘n artikel in die SATNT gepubliseer te word.
  • Indien die manuskrip nie deur die keurders afgekeur word nie, word die keurders se aanbevelings met die outeurs gedeel, en word verbeteringe deur die outeurs aangebring gedurende ‘n manuskrip hersieningsproses. Hersiene manuskripte word dan weer aanlyn aan die SATNT voorgelê, soos gespesifiseer deur die Tydskrifbestuurder se aanlyn indiening stelsel.
  • Die hersiende manuskrip, saam met ‘n volledige lys van die veranderinge wat in die manuskrip aangebring is, word weer aan die Redakteur voorgelê. Indien klein veranderinge aangebring is, kan die Redakteur na oorweging die manuskrip aanbeveel vir publikasie as ‘n artikel in die SATNT. Indien groot veranderinge aangebring is, besluit die Redakteur, in konsultasie met die keurders of professionele lede van die Redaksionele Raad, of die veranderinge voldoende is. Verdere verbetering kan in die laasgenoemde geval vereis word, waarna die manuskrip weer aan die outeurs teruggestuur word vir verbetering. Sodra die manuskrip voldoende verbeter is, word dit weer aan die Redakteur voorgelê vir finale goedkeuring, waarna dit deurgestuur word vir taalversorging en publikasie in die SATNT.
  • Outeurs het die reg om skriftelik teen ‘n besluit van die Redakteur te appelleer, waarna die Redakteur, in konsultasie met die Redaksionele Raad (en die keurders indien nodig), ‘n finale besluit sal neem.
TOEGANG TOT INHOUD

Die SATNT lewer onmiddellike oop-toegang tot sy inhoud. Hierdeur ondersteun die tydskrif die beginsel dat vrye toegang tot navorsing die wêreldwye uitruiling van kennis bevorder.

MANUSKRIPBESTUUR

Die SATNT maak gebruik van die  interaktiewe “Open Journal Systems (OJS)” rekenaarsagteware vir manuskripbestuur en ewekniebeoordeling. Manuskripte word dus met min moeite ontvang, gekeur, geredigeer en uiteindelik (indien suksesvol) gepubliseer

ONDERSTEUNING

Deur die uitstekende borgskappe wat ons ontvang, onder meer van die Hiemstra Trust en die Het Jan Marais Fonds word geen publikasiekoste gehef vir Afrikaanse bydraes nie. Vir ‘n Engelse artikel word ʼn publikasiefooi van R2,500.00 gehef, asook die helfte van die koste wat vir vertalingsdienste aangegaan is. Die gepubliseerde manuskripte kan onmiddellik elders op navorsingsplatforms, soos bv. ResearchGate, geplaas word om die sigbaarheid van die manuskripte te verhoog.

UITGEWER

Die SATNT word deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gepubliseer.