REGULASIES

KOPIEREG EN VRYWARING

Die outeursreg van artikels wat in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie of in die “South African Journal of Science and Technology” (albei hierna verwys as die SATNT) gepubliseer word, word deur die outeurs behou, maar verleen toestemming aan die SATNT en die “Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns” (hierna verwys as die SAAWK) om hul werk onder ‘n Creative Commons Attribution-NonCommercial-ShareAlike 4.0 International (CCBY-NC-SA 4.0) lisensie te publiseer. Met die indiening van ‘n manuskrip waarborg outeurs dat die inhoud daarvan geen bestaande gemenereg of statutêre outeursregte skend nie. Die menings wat in artikels uitgespreek word, is dié van die outeurs en weerspieël nie die menings of sienings van die SATNT of die SAAWK of sy lede nie.

Sakel na die lisensie: https://creativecommons.org/licenses/by-nc-sa/4.0/

PLAGIAATBELEID

Plagiaat vind plaas wanneer iemand anders se werk (boek, artikel, webwerf, ens.) of hulle idee gebruik word sonder om hulle as die bron van die werk te erken, of dit nou woordeliks gekopieer of geparafraseer is. Manuskripte wat aanlyn ingedien word, sal vir potensiële plagiaat ondersoek word voor die keuring plaasvind met behulp van ooreenkomsopsporingsagteware. Alle gevalle van plagiaat word in ‘n ernstige lig beskou.

INGEDIENE MANUSKRIPTE

  • Wanneer daar ‘n vermoede is dat plagiaat plaasgevind het in ‘n ingediende manuskrip, óf deur die ooreenkomsverslag van ‘n plagiaatopsporingsskandering óf deur ‘n keurder van die manuskrip, moet dit onder die aandag van die Redakteur of die Tydskrifbestuurder gebring word.
  • Wanneer vermeende plagiaat aan die Redakteur of die Tydskrifbestuurder gerapporteer word, sal die verslag erken word en alle relevante dokumentasie/bewyse sal deur die Redakteur, in samewerking met die Tydskrifbestuurder, bekom en ondersoek word om te bepaal of plagiaat wel voorgekom het, en indien wel, sal die omvang van die plagiaat vasgestel word.
  • Indien plagiaat voorgekom het, sal die hoofouteur van die manuskrip deur die Redakteur in kennis gestel word dat die manuskrip verwerp word.
  • Indien die omvang van die plagiaat gering is en die Redakteur bevind dat die outeur(s) nie met opset plagiaat gepleeg het nie, sal geen verdere stappe geneem word nie. Indien die plagiaat omvangryk is, sal die outeur(s) se instelling(s) en befondsingsliggame deur die Redakteur van die oortreding in kennis gestel word (die ingediende en plagiaat materiaal was sal aan hulle gestuur word). Outeurs sal deur die Redakteur in kennis gestel word dat hul instelling(s) in kennis gestel sal word en dat hulle in die toekoms verbied sal word om enige materiaal in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie te publiseer.
  • Die leser of keurder wat die vermeende plagiaat aangemeld het, sal van die uitslag van die ondersoek in kennis gestel word.

GEPUBLISEERDE ARTIKELS

  • Wanneer vermoedelike plagiaat aan die Redakteur van die Tydskrifbestuurder gerapporteer word, sal die verslag erken word en alle relevante dokumentasie/bewyse sal deur die Redakteur, in samewerking met die Tydskrifbestuurder, opgespoor en ondersoek word om te bepaal of plagiaat wel plaasgevind het, en indien wel sal die omvang van die plagiaat vasgestel word.
  • Indien plagiaat wel voorgekom het, sal die hoofouteur deur die Redakteur in kennis gestel word, en ondervra word.
  • Indien die omvang van die plagiaat gering is en die Redakteur bevind dat die outeur(s) nie met opset plagiaat gepleeg het nie, sal ‘n verklaring wat materiaal wat aan plagiaat onderwerp was, met verwysings, aanlyn gepubliseer word en die artikel sal aanlyn aan die verklaring gekoppel word, en andersom.
  • Indien die plagiaat omvangryk is, sal die artikel teruggetrek word (sien ARTIKEL-TERUGTREKKINGSBELEID) en sal ‘n verklaring gepubliseer word wat erkenning verleen aan die oorspronklike eienaar(s) van die inhoud ter sprake.
  • Die outeur(s) se instelling(s) en befondsingsliggame sal deur die Redakteur van die oortreding in kennis gestel word (die ingediende en materiaal wat aan plagiaat onderwerp was sal aan hulle gestuur word). Outeurs sal deur die Redakteur in kennis gestel word dat die betrokke instelling(s) in kennis gestel sal word en dat hulle in die toekoms verbied sal word om enige materiaal in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie te publiseer.
  • Die oorspronklike outeur(s) en uitgewer van die wek ter sprake sal ook van die oortreding in kennis gestel word.
  • Die leser of keurder wat die vermeende plagiaat aangemeld het sal ook van die uitslag van die ondersoek in kennis gestel word.
ARTIKEL-TERUGTREKKINGSBELEID

Vir wetenskaplike verwysing moet wetenskapartikels beskikbaar wees in hulle oorspronklike gepubliseerde vorm. Onder uitsonderlike omstandighede, as gevolg van byvoorbeeld plagiaat en inhoudsfoute, mag artikels teruggetrek, verwyder of vervang word om die integriteit van die wetenskapliteratuur te beskerm. Die behoefte aan ‘n terugtrekking sal deur die Redakteur bepaal word, maar kan in gevalle van gebrekkige data of gevolgtrekkings op versoek van die outeur(s) geïnisieer word. Om ‘n artikel terug te trek, sal ‘n kennisgewing van terugtrekking in die volgende uitgawe van die tydskrif gepubliseer word. Hierdie kennisgewing van terugtrekking sal:

  • die titel en outeurs van die artikel, die rede vir die terugtrekking en wie die artikel terugtrek, insluit;
  • aanlyn aan die artikel gekoppel wees; en
  • op al die artikel se bestemmingsblaaie en afgelaaide dokumentasie aangedui word.
RIGLYNE VIR DIE GEBRUIK VAN KUNSMATIGE INTELLIGENSIE

Alhoewel die beskikbaarheid van Kunsmatige Intelligensie (KI) en Groot Taalmodel (GT) gereedskap nuwe moontlikhede in die publikasie van wetenskaplike navorsing geskep het, bied dit ook uitdagings ten opsigte van die handhawing van deursigtigheid, geloofwaardigheid en verantwoordbaarheid. Hierdie riglyne verskaf standaarde en praktyke vir outeurs (en keurders) rakende die toepassing van KI-gereedskap en -hulpbronne in die voorbereiding (en evalueering) van wetenskaplike artikels vir die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie.

Die riglyne is gebaseer op die ASSAf- en SciELO-riglyne vir die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI)-instrumente en -hulpbronne in navorsingskommunikasie, wat op 17 September 2024 deur die ASSAf-Raad onderskryf is.

AANBEVELINGS VIR OUTEURS

 Outeurs is self verantwoordelik om te verseker dat die geldigheid en integriteit van die inhoud in hul manuskripte eg is. Omdat dit nie die werk van die outeurs is nie, moet enige gebruik van inhoud wat deur ‘n KI-toepassing gegenereer word, met ‘n toepaslike verwysing erken word. Die versuim om sodanige gebruik te erken, kan neerkom op plagiaat.

Outeurs word versoek om waninligting wat deur ‘n KI-toepassing gegenereer word, te vermy, aangesien dit vir die outeur persoonlik nadelige gevolge kan hê en die gehalte van toekomstige navorsing en globale kennis kan beïnvloed.

Outeurs mag gereedskap en hulpbronne gebruik wat kan help met die voorbereiding, metodologie, data-analise, skryfondersteuning, hersiening en vertaling van hul artikels. KI-toepassings bied baie van hierdie gereedskap en hulpbronne aan, byvoorbeeld grammatikale en punktuasiefoutopsporingsinstrumente wat toelaatbaar is etiese en wetenskaplike integriteit gehandhaaf word in die gebruik daarvan.

Dit is egter belangrik om daarop te let dat slegs mense as outeurs beskou kan word, in ooreenstemming met die volgende reëls en praktyke:

  • Die bronne van materiaal wat in navorsing en die skryf van ‘n manuskrip gebruik word gaan met ‘n verwysing gepaard (sien hieronder). Enige gebruik van inhoud wat deur ‘n KI-toepassing gegenereer word, moet in die manuskrip se liggaam genoem word, en kan ook onder verskeie afdelings genoem word.
  • Alle aangehaalde materiaal moet behoorlik erken word, insluitend volledige aanhalings, en die aangehaalde bronne moet die bewerings wat deur die KI-toepassing gemaak word, ondersteun, aangesien dit nie ongewoon is dat KI verwysings nie-bestaande werke kan genereer nie, d.w.s. alle aanhalings moet nagegaan word.
  • Algemeen gebruikte KI-instrumente, soos spelling- en grammatikakontroles, hoef nie bekend gemaak te word nie. Outeurs in velde waar gespesialiseerde terminologie gebruik word, soos regs- en tegniese velde, moet egter diskresie uitoefen wanneer hulle hierdie instrumente gebruik. Dit is belangrik om die voorstelle wat deur KI-instrumente verskaf word, noukeurig te ondersoek om die verkeerde interpretasie van die konteks of terminologie te vermy.
  • Die outeurs moet verantwoordelikheid neem vir hul werk as outeurs. Die verskansing van die gebruik van KI-instrumente is oneties en skend die beginsels van deursigtigheid en eerlikheid in navorsing.

AANBEVELINGS VIR KEURDERS

Keurders is verantwoordelik vir die billike en objektiewe evaluering van manuskripte van artikels, met ‘n fokus op kwaliteit en oorspronklikheid. Ervaring en kennis is van kardinale belang in hierdie proses, ondersteun deur verskeie gereedskap soos plagiaatopsporingsprogramme, statistiese ontledingsagteware en akademiese soekenjins, waarvan baie deur KI-toepassings verskaf word. Keurders vir velde wat gespesialiseerde terminologie gebruik, soos regs- en tegniese velde, moet die inhoud noukeurig nagaan vir verkeerde terminologie wat moontlik deur spelling- en redigeringsinstrumente geskep is.

Keurders moet die impak en implikasies van KI-gegenereerde inhoud in publikasie in ag neem wanneer dit gebruik word om ontledings uit te voer of resultate te rapporteer, soos die skepping van misleidende of bevooroordeelde inhoud (wat na verwagting deur die outeur in die metodesafdeling of die erkenning aangedui sal word, afhangende van die tydskrif se riglyne). Hulle moet bewus wees van die gereedskap en hulpbronne wat die opsporing van KI-gegenereerde of gewysigde inhoud fasiliteer. Keurders word versoek om vals inligting te vermy, aangesien dit nadelige gevolge kan hê.

Alle ingediende manuskripte en korrespondensie met die Redaksie moet vertroulik hanteer word en op geen manier gedeel word nie.

Keurders wat KI-toepassings en -inhoud gebruik, moet etiese standaarde en beste praktyke nakom en hul gebruik van KI-gereedskap in die hersieningsverslae dokumenteer. Om die gebruik van KI-gereedskap weg te steek, is oneties en ondermyn deursigtigheid in portuuroorsig. Die keuringsproses is vertroulik, en die gebruik van KI-gereedskap op die manuskrip kan dit vir die publiek openbaar, wat die vertroulikheidsbeginsel skend, vertroulike inligting vir die publiek openbaar maak en deursigtigheid in die gedrang bring.

Indien die ingediende manuskrip nie ‘n voordruk is nie, moet die keurder dit nie aan ‘n ooreenkomskontrolediens voorlê wat identiteite en inhoud kan openbaar nie.

HOE OM NA KI-INHOUD TE VERWYS EN DIT AAN TE HAAL

Inhoud wat deur KI-gereedskap geskep word, moet aangehaal en na verwys word as ‘n onherwinbare bron, soortgelyk aan persoonlike kommunikasie. Wanneer daar na die gebruik van KI-gereedskap, soos ChatGPT, in akademiese werk verwys word, is dit belangrik om te voldoen aan die aanhalingsstandaarde van die spesifieke akademiese veld of tydskrif waarvoor jy skryf. Hier is ‘n paar algemene riglyne oor hoe om na KI-gereedskap te verwys en dit aan te haal:

  • Spesifieke Tydskrifriglyne: Dit moet die riglyne vir die aanhaling van hierdie tipe hulpbron in die gekose verwysingstyl van die betrokke tydskrif volg. Die tydskrif moet ‘n voorbeeld in sy Riglyne aan Outeurs-afdeling verskaf. Net soos persoonlike kommunikasie aangehaal word om erkenning en konteks te verskaf, verseker die aanhaling van KI-gegenereerde inhoud deursigtigheid en verantwoordbaarheid in akademiese diskoers.
  • Verwysing na en aanhaling van KI-gereedskap: Enige wesenlike gebruik of inhoud wat deur ‘n KI-toepassing geskep word, moet in die metodes-afdeling of in die erkenningsafdeling genoem word (afhangende van die tydskrif se riglyne). Die verklaring van sodanige gebruik moet die naam, weergawe en vervaardiger van die instrument wat gebruik is, asook die datum waarop dit verkry is, insluit, byvoorbeeld: (Chat GTP 3.5, Weergawe 28 Augustus 2023, Oop KI, verkry op 16 September 2023).

Indien die tydskrif spesifieke riglyne het of ‘n spesifieke verwysingstyl vir die aanhaling van sagteware of gereedskap volg, moet outeurs by daardie riglyne hou. Indien sulke riglyne nie verskaf word nie, kan ‘n algemene formaat vir sagteware-aanhaling gebruik word.

Tydskrifte moet outeurs aanmoedig om die gebruik van KI-instrumente in die metodologie- of erkenningsafdeling van ‘n manuskrip te noem (afhangende van die tydskrif se riglyne) wanneer sulke instrumente gebruik is. Die ‘prompt’- of gewone taalinstruksie wat in die instrument gebruik word, moet ook in die metodesafdeling van die manuskrip ingesluit word of as aanvullende materiaal verskaf word (afhangende van die tydskrif se riglyne).

Waar KI-instrumente of GTs gebruik is (soos byvoorbeeld in die ontwerp van ‘n studie, die redigering van nie-databeelde, die redigering of hersiening van die skryfwerk) voldoen sulke bydraes nie aan die kriteria van outeurskap in akademiese navorsing nie.

DOUW GREEFFPRYS

BEPALING VAN DIE WENNER

  • Al die artikels wat in Afrikaans gedurende die jaar van belang in die SATNT uitgawe van daardie jaar ingedien en gepubliseer was word aan elke redaksielid van die SATNT gestuur vir beoordeling. Die aanname word gemaak dat die redaksielede die breë natuurwetenskap en tegnologie gemeenskap verteenwoordig.
  • Daarmee saam word ‘n BEOORDELINGSVORM ook aan elke redaksielid gestuur.
  • Elke redaksielid beoordeel  die publikasies volgens punte wat aan die vrae in die beoordelingsvorm toegeken word oor ‘n beoordelingsperiode van ten minste een week.
  • Geen bespreking oor die status van artikels word tussen redaksielede gedurende die beoordelingsperiode toegelaat nie.
  • Redaksielede verskaf terugvoer deur hulle punte per vraag op die beoordelingsvorm voor of op die sperdatum aan die SATNT redakteur terug te besorg. Dit is belangrik dat die beoordelingsvorm deur die redaksielid wat die beoordeling uitgevoer het onderteken word.
  • Indien dieselfde hoogste gemiddelde punt vir meer as een publikasie behaal word, sal die redaksie weer tussen die twee publikasies moet kies deur dieselfde beoordelingsproses as hierbo te volg, maar oor ‘n korter tydperk.
  • Sodra die beoordeling afgehandel is maak die SATNT redakteur die uitslag aan die SA Akademiekantoor bekend, en stel ook die oorspronklike getekende beoordelingsvorms beskikbaar aan die SA Akademiekantoor vir kontrole.