PROFIEL

HOOFDOELSTELLINGS VAN DIE TYDSKRIF
  • om as ‘n ooptoegang ewekniebeoordeelde wetenskaptydskrif te dien waarin Suid-Afrikaanse navorsingsresultate vanuit die natuurwetenskappe en tegnologie gepubliseer word vir nasionale en internasionale blootstelling;
  • om vir Afrikaanssprekende wetenskaplikes die geleentheid te bied om hulle navorsingsresultate in hulle moedertaal te kan publiseer;
  • om erkenning te verleen aan andertalige wetenskaplikes deur manuskripvoorleggings in Engels te aanvaar wat met publikasie ook in Afrikaans vertaal sal word; en
  • om die Afrikaanse vaktaal in die natuurwetenskappe en tegnologie te onderhou en verder uit te brei.
GESKIEDENIS VAN DIE TYDSKRIF

Op akademiese vlak het die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns van 1922 af onder redaksie van dr. D.F. Malherbe verskyn. In 1948 het die Ingenieursafdeling van die SAAWK egter besluit om die Tydskrif van die Ingenieursafdeling van die SAAWK (onder redaksie van mnr. S.A. Malan) afsonderlik te begin uitgegee. Hierdie tydskrif se mandaat word in 1949 uitgebrei waarna dit vervang word met die tydskrif Tegnikon onder redaksie van mnr. F.S. Uys. In 1961 word daar besluit om die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns in twee te verdeel, waaruit die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (onder redaksie van prof. P.J. Nienaber) en die Tydskrif vir Natuurwetenskappe (onder redaksie van dr. A. Strasheim) die lig sien. In 1982 smelt Tegnikon en die Tydskrif vir Natuurwetenskappe saam waaruit die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT) gebore word – op daardie stadium nog steeds onder redaksie van dr. A. Strasheim. Na 2000 word prof J.N. Eloff aangewys as die Voorsitter van die Redaksiekomitee van die SATNT. Met nuwe ontwikkelings in die rekenaar kommunikasietegnologie word die eerste elektroniese aanlyn-uitgawe van die SATNT in 2012 gepubliseer. Tussen 2013 en 2016 neem prof. J.G. Maree oor as die Uitvoerende Redakteur, en na 2016 word prof J.N. Eloff weer aangewys die Uitvoerende Redakteur van die SATNT. Prof. Oppel B.W. Greeff neem daarna in Januarie 2021 oor as Hoofredakteur – ʼn posisie wat hy beklee het tot aan die einde van February 2023. Sedert Maart 2023 word prof. Hannes Rautenbach aangestel as die Hoofredakteur van die SATNT.